Buffel gooi boer in die lug

Mnr. Tollie Jordaan, die baas van “Tollie’s African Safaris”, is deur ’n buffel op sy plaas Buffelsfontein, drie keer in die lug gegooi.

 

Mnr.Karinus Hugo, ’n bestuurder van Jordaan, sê een buffel het uit ’n kamp weg gebreek. Tollie Jordaan en werkers het hom opgespoor en besluit om die dier na ’n ander kampie te neem waar sy siek diere gewoonlik behandel word.

 

Die buffel is aangejaag na die klein kampie, en het ewe onverwags omgevlieg en Tollie gestorm. Hy het probeer om oor die heining te klim maar was te laat.

 

Hugo vertel dat die buffel Tollie drie keer in die lug gegooi het. Hy sê dit is net genade dat die buffel se horings nie vir Tollie deurboor het nie.

 

Nadat die buffel Tollie die derde keer in die lug gegooi het, het hy doodluiters omgedraai en die klein kampie ingegaan

 

Mnr. Jordaan is na die Netcare-Hospitaal in Port Elizabeth geneem en verkeer tans in die intensiewe eenheid.