Boere baat by munisipale nalatigheid.

Die munisipaliteit van Brandfort en omgewing is nie bekommerd oor die enorme lek van water uit die hoofpyp van die Erfenisdam nie.

 

Die lekkasie is so groot dat die boere in sekere gebiede se gronddamme nou reeds oorloop terwyl die gebied nie ’n druppel reën gehad het gedurende die wintermaande nie.

 

Daar is blykbaar ’n traak-my-nie-agtige houding by munisipale werkers. Die lekkasie is etlike maande gelede onder die aandag van senior amptenare gebring, maar nie een vinger is verroer om die lekplek te herstel nie.

 

In sekere dorpsgebiede is daar ’n ernstige waternood en krane is nou al vir weke dolleeg.

 

Die Vryburger verneem van een inwoner dat sy klagte en navraag in die verband net met ’n skouer haling afgemaak is.

 

Berigte lui dat boere se gronddamme reeds oorloop vanweë die lekkasie. Tussen vyf en agt gronddamme is reeds vol as gevolg van ’n gat in die waterpyp tussen Brandfort en Theunissen.

 

Vanweë die aanhoudende vloei van water, het daar al plek-plek vleilande ontstaan.

 

Ditaba Ntoapane, wat veronderstel is om ’n toesighouer te wees by die watersuiweringsaanleg sê hulle sukkel al lank met die probleem.

 

Ntoapane sê daar kom baie min water op Brandfort uit en saans skakel hulle die krag af by die pompstasie wat meebring dat die dorp soggens ook nie water het nie.

 

Die Direkteur van Ontwikkeling by Waterwese sê hy is onbewus van ’n stukkende pyp en die tegniese personeel moes hom daarvan verwittig het.

 

Ondanks talle versoeke en navrae kon niemand van die munisipaliteit gevind word om te verduidelik waarom die saak nie aandag kry nie.