Beroof jy God?

Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.- Maleagi 3:8-10

Ek wonder hoeveel volksgenote kry hul salaris, haal hul tiende uit en begroot dan vir die maand? Die meeste betaal geen dankoffer nie, of betaal ‘n paar Rand elke paar maande. Sommige sê: Ek sal die Here dien met my tyd asof die Here jou die opsie gee om te kies watter manier gerieflik is vir jou om Hom te dien! Ek wil in elk geval sien wie ‘n tiende van sy tyd gee, meer as twee ure per dag! Vir meeste is een uur per week al te veel gevra! Wat is u maandelikse bydrae? Is dit minder as R700. Indien wel, het u DSTV? Die premium pakket van DSTV kos amper R700. Het u dan meer om uit te gee op DSTV as aan die Here? Dit is maar een goeie toets van prioriteite!

Die Here sê: Bring die hele tiende na die skathuis en Hy voeg by: Beproef My hierin, of Ek jou nie sal seën nie! Alles wat ons kry kom van Hom af! Hoe is dit moontlik dat ons nie ‘n tiende kan teruggee nie! As jy dit wel doen, sal Hy jou seën, nie noodwendig met rykdom nie, maar Hy sal jou onderhou. Toets Hom hierin, neem die geloofstap en jy sal verstom staan hoe Hy jou onderhou!