Bauhinia Tomentosa – Bosbeesklou

In die afgelope weke het ons nou baie oor indringerplante en selfs indringerbome geskryf.  Aangesien die winter nou einde se kant toe staan, het ons al baie indringers vernietig. Nou kan ons begin konsentreer om nuwe bome en struike te plant vir die komene seisoene.

 

Hierdie  Bauhinia Tomentosa met die kostelike naam “Bosbeesklou” kan in die plek van die sovele indringerplante geplant word.  U sal die wonderlike vreugde van hierdie kleinerige boom  en sy heldergeel blomme met die donker maroon ogie geniet.  Dit is ’n pragtige struik met baie digte takke en blare.

 

Die Bauhinia Tomentosa is vamilie van Fabaceae – Caesalpiniodeae.  Dit kom voor langs die Natalse kusstreke, Oos Transvaal, Rhodesië, en tropiese Afrika en sover as Indië en

Sri Lanka.  Die genus “Bauhinia”  is vernoem na die tweelingbroers, Johann en Caspar Bauhin wat in die 16de eeu gelewe het.

 

Die Bosbeesklou is ’n groterige struik of klein boom wat pragtig in tuine vertoon.  Hy word so 4 meter hoog.  Hy is gevoelig vir  ryp en verloor gewoonlik nie sy blare in ’n matige tot subtropiese klimaat nie.  Klein plante behoort teen ryp beskerm te word.  Hierdie plant hou van vol son en gereelde benatting is nodig. Die plant groei van saad wat oornag in warm water geweek moet word en dit ontkiem binne 7 – 15 dae en kan direk in die grond waar die boom moet staan geplant word. Dit is ook geskik vir groot potte en kan ook in rotstuine geplant word. Die wortelstelsel is nie aggressief nie en kan naby aan plaveisel of die swembad geplant word.  Omdat dit so ’n welige boompie is, kan dit as heining ook aangeplant word.

 

Sy blare is liggroen en is verdeel in twee lobbe met ’n sterk aanhangsel aan die tak waaraan hulle hang, en lyk nogal na ’n tipe “klou”.  Dit is kleinerige blaartjies met ’n leeragtige tekstuur. Die lobbe van die blaartjies is ovaalvormig en wanneer hulle toegevou word, is hulle presies ewe groot.   Die takke van die boom word lank en hang dan na onder.

 

Die boompie blom van Desember tot Maart.  Die blomme is heldergeel en klokvormig met 3 langerige puntvormige blaartjies en  word tot 7 cm lank.  Dit bevat baie stuifmeel en nektar en lok verskeie insekte, skoenlappers en bye na die tuin. Die vrugte na die blomme is saadpeule en lyk soos ertjiepeule en is houtagtig,  is ligte groen en verkleur na bruin wanneer hulle ouer word en die peule verskyn vanaf Januarie tot Junie en selfs later. Wanneer die peule oopgaan, is daar tussen 6 – 12 blink rooibruin  sade wat verskyn.  Die bas is grys/vaal en sag..  Wanneer die takke ouer word, verkleur hul bruin en sag.

 

Geniet u tuin en onthou daar is nou sommer baie soorte saailinge, soos gesiggies, by die kwekerye te koop.  U kan nog altyd rose en bome snoei, dit is nog nie te laat nie.