As kraai die kinders vermaak!

Oor dekades is daar stories en verhale van kraaie wat die ryk mense se kosbare juwele en ander blink voorwerpe “gesteel” het om aan die arm mense te gee.

 

Hier in Johannesburg se Monte-Casino Park is egter ’n ander verhaal – hierdie keer met die volle waarheid ingeklee. Die swartkraai, genaamd Russell, neem geld by kinders en sit dit ewe beskaafd in ’n houer wat vir skenkings bedoel is.

 

Die geld wat Russell ontvang, skenk hy weer vir die bromvoël-projek om dié besonderse inheemse spesie, van uitwissing te red.

 

Ryne Ferguson, wat Russel moes leer hoe om met die geld te werk, sê dit het die swartkraai drie maande geneem om ten volle te verstaan wat gedoen moet word met skenkers se geld.

 

“Aanvanklik het Russel die kunsmatige “papiergeld” opgeskeur. Mettertyd het ons hom beloon vir elke korrekte plasing van die “geld” in die silwer bakkie wat vir die doel daar geplaas is”.

 

Daar is na raming hoogstens 1,500 bromvoëls oor. Die Park het twee broeipare wat elke jaar broei. Benewens die vernietiging van die habitat wat veroorsaak dat die voëls aan die uitsterf is, word hulle ook deur mense gevang en verkoop teen astronomiese bedrae omdat die voëls so skaars is, en hulle word ook doodgemaak vir moetie wat deur toordokters gebruik word.

 

“Hulle lê twee eiers, maar gewoonlik sorg die ouers net vir die eerste kuiken wat uitbroei, en die ander een gaan dood van honger. Ons haal die tweede eier uit die nes en laat dit uitbroei. Die kuiken gaan dan na die Mabula-projek, waar hy geleer word om in die natuur aan te pas, of word na ’n plek gestuur waar ’n broei-maat nodig is.”

 

Russel se bydraes is nie net om kinders te vermaak nie, maar ook om hulle daardeur meer bewaringsbewus te maak.

Foto – Monte-Casino Park