Afrikaans ‘n Afrikataal?

Afrikaans sal oorweeg word wanneer Afrikatale volgende jaar in sekere skole in gr. 0 en gr. 1 as vak ingestel word.

 

So het Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys in ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê.

 

Die Minister is oningelig daarin dat sy nie besef nie dat Afrikaans nie ‘n Afrikataal is nie, maar ‘n Indo-Europese taal, w.o. Engels ook tel. Die feit dat die blanke Afrikanervolk die enigste volk is wat in die nuwe wêrelde (Amerika, Kanada, Australië en Nu Zeeland) ‘n eie taal het, beteken nie dat die taal deel van die kontinent is nie.

 

Hierdie feit word deur prof. Wannie Carstens van die Noordwes Universiteit bevestig in ‘n boek waarmee hy nog besig is en waarin hy sê dat die wortels van Afrikaans lê in Europa en dat dit teruggespoor kan word na 7,000 v.C.

 

‘n Kenner van die Sanskrit het waargeneem dat baie woorde in Afrikaans direk terug verwys na woordwortels uit daardie periode. Volgens hom kom elke Afrikaanse woord wat die woord "son" bevat uit die Sanskrit; bv son, Sondag, onbesonne, ens.

 

Prof. Carstens sê daar is 7,105 tale in die wêreld waarvan Afrikaans die 120ste grootste is.

 

Interessant is ook dat Engels nie die grootste taal is nie, maar Mandaryns met 900 miljoen sprekers. As die variëteite ingesluit word, is dit maklik 1.2 miljard sprekers. Vergelyk dit met Engels se 500 miljoen.

 

Dat tale ook soos renosters moet opgepas word blyk uit die feit dat 12 tale jaarliks uitsterf. Die goeie nuus is dat moedertaal-gebruik toeneem.

 

Intussen het die Raad van Onderwysministers (Rom) besluit dat die Afrikataalprojek volgende jaar as aanvoorprojek by tien skole in elke onderwysdistrik in die vroeë grade begin word.

 

Motshekga het gesê daar moet verseker word dat die uiteindelike oorgang maklik is en dat daar genoeg hulpbronne en personeel is om die projek te laat werk. Sy sê Afrikaans sal beslis een van die inheemse tale kan wees wat beheerliggame van skole sal kan besluit om aan te bied.

Foto – Angie Motshekga