Wapentransaksie: Min hoop vir geregtigheid.

Die man wat tot in die hoogste hof baklei vir ‘n kommissie om Suid-Afrika se multimiljardrand-wapentransaksie te ondersoek, het alle hoop in die Seriti-kommissie laat vaar.

 

Terry Crawford-Browne, wapentransaksie-aktivis, het gister gesê die kommissie moet sy versoek vir nog tyd en geld ná sy sperdatum van 30 November vanjaar terugtrek omdat dit niks gaan bereik nie. 

Die kommissie se sittings is in Pretoria hervat. Daar is ‘n geslote sessie gehou waartydens die regspanne beraadslaag het. Dít is presies waarteen Norman Moabi, voormalige ondersoeker van die kommissie, gewaarsku het toe hy bedank het.

 

Crawford-Browne het heftig hierteen gereageer. Hy sê die kommissie rek die proses uit tot sy tyd en geld op is en die nuusmedia belangstelling verloor het. Volgens hom kan die kommissie eerder sy werk staak. Dit sal beter wees as die wapenkontrakte gekanselleer word en die geld aan SA terugbetaal word.

Voorts meen hy ook dat die maatskappye met wie die transaksies gesluit is, se name op ‘n swartlys geplaas word. Hy meen afgetrede regters moet aangestel word om te bepaal wat agter oud-pres. Thabo Mbeki, oud-minister Alec Erwin en Trevor Manuel se optrede met die transaksie was.

 

Miskien moet net gekyk word na die mense wat almal ontken dat hulle enigiets oneties met die wapentransaksie te make het, dan kan die koste verbonde aan die Seriti-ondersoek dalk gespaar word.

Afgesien van die name wat reeds genoem is, ontken ook volgende persone betrokkenheid: oud-pres. FW de Klerk, Pres. Jacob Zuma, wapenhandelaar John Bredenkamp, Mallar Inc., Tony Georgiades, om net ‘n paar te noem.

 Foto – Terry Crawford-Browne