Vryheidsoorlog: ‘n Onbekende verhaal

Die laaste woorde van ’n dapper jong man wat sy plek vol gestaan het tydens die Tweede Vryheidsoorlog, is gerig aan sy ma en broer, en dit laat heimwee, wrewel en trane meng.

 

“Gee my horlosie aan Vader, die kamaste aan Barend, my hoed aan Alit en die lyfband aan Hennie.”

 

Dit is die woorde van ’n jong man die aand voor hy, tydens die Tweede Vryheidsoorlog, gehang is weens die optrede van lafaards, verraaiers en joiners.

 

Die brief sluit sy kort testament in.

 

Die jong Izak Bartholomeus Liebenberg (18) skryf in ’n brief, sy laaste gedagtes, met die vers:

“Veilig in Jezus’ armen, Zacht aan Zijn borst gevlijd,

Daar in Zijn liefdeschaduw, Wacht mij de heerlikheid.”

 

Hierdie woorde is nog te sien in die oorspronklike brief wat Izak Liebenberg op 10 Januarie 1902 in die dodesel op Aliwal-Noord geskryf het.

 

Die vergeelde brief is vir meer as ’n eeu in ’n Bybel bewaar wat ’n moeder in die Konsentrasiekamp van Bethulie, in die Vrystaat, gehad het.

 

Die 87 jarige oom Swaerrie Coetzer van Rouxville het sy moeder se Bybel met hierdie brief nou aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein bemaak, waar dit vir die komende geslagte bewaar sal word.

 

Lt. Izak Liebenberg, oorspronklik van Philippolis, was ’n junior offisier in die kommando van Gideon Scheepers.

 

Die inligting is wel bekend en ook reeds te boek gestel, maar die brief is ’n welkome getuigskrif en fonds om te bewaar.

 

Liebenberg is deur Britse soldate in hegtenis geneem, verhoor en ter dood veroordeel vir die “moord” op Leopold Henry Neumeyer wat ’n lid van die polisie op Smithfield was. Hy het hom tydens die oorlog by die Britte geskaar, en is deur die Boere as ’n verraaier en joiner bestempel.

 

Neumeyer was behulpsaam om Boere se plaashuise af te brand want hy het geweet watter Boere op kommando was. Hy was aktief betrokke om te help om vroue en kinders op die wreedaardige wyse te behandel en na die konsentrasiekamp op Aliwal-Noord te neem.

 

Op 23 November 1900 is Neumeyer en ene Van Aswegen, ook ’n joiner, op die plaas Stolzkraal in die Rouxville distrik, deur ’n Boerekommando onder leiding van luitenante Swanepoel en Liebenberg in hegtenis geneem.

 

Die joiner Van Aswegen het ontsnap. Neumeyer wou ook vlug, maar is deur Liebenberg gewond. Hy het egter probeer wegkom, waarna hy doodgeskiet is deur Swanepoel wat later self ook gesneuwel het tydens ’n geveg.

 

Die Britte was vasbeslote om die dood van Neumeyer te wreek en op 12 Julie 1901 is Liebenberg gevange geneem, vir moord aangekla, en op Aliwal-Noord in ’n tronk aangehou.

 

In ’n omstrede hofsaak het twee Boere-krygsgevangenes, Tobias du Toit en Frans Steenberg, teen Liebenberg getuig in ruil vir hul eie vryheid.

 

Liebenberg het erken dat hy die vlugtende Neumeyer gewond het, maar nie dat hy vir sy dood verantwoordelik was nie. Op 11 Januarie 1902 is Liebenberg in die Aliwal-Noord tronk tereggestel. Die eerste poging om hom te hang het misluk, maar die Britte het hom ’n tweede keer gehang.

 

Die sterftekennisgewing van Neumeyer word aangedui as “Murdered by the Boers”.  Neumeyer is in die Britse begraafplaas op Aliwal-Noord begrawe.

 

Die jong Liebenberg se oorskot is later opgegrawe en by sy ma op hul plaas begrawe.

Foto – Izak Bartholomeus Liebenberg