Zumaville se baas het moeilikheid


Pres. Jacob Zuma is in ‘n nuwe storm oor sy Nkandla-woning nadat die omvang van sy betrokkenheid by die projek en veral die wyse waarop regulasies omseil is om hom ter wille te wees, onthul is.

Die Presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj hou egter vol dat kommentaar nie gelewer kan word nie aangesien die saak nog ondersoek word.

‘n Beroep is op die Nasionale Vergadering gedoen om so gou as moontlik ‘n resolusie op die Parlementêre agenda te plaas om Zuma se betrokkenheid by die Nkandla-verbouings ten volle te ondersoek.

Dit kom na die Departement van Openbare Werke 42 leêrs met meer as 12,000 bladsye oor President Zuma se privaat woning in Nkandla aan ‘n Engelstalige koerant gestuur het.

Die dokumente is aan die koerant gegee na ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) oor die besteding van openbare fondse aan Zuma se huis.

Volgens berig word het die koste van die huis van R27,8 miljoen in 2009 tot ‘n geraamde totaal van ongeveer R273 gestyg. Zuma hoef net R10,7 miljoen van die totale koste te betaal.

Hoewel die verslag as hoogs geheim geklassifiseer is, is daar volgens die berig niks wat nie openbaar gemaak kan word nie, behalwe hoe senior amptenare en politici gespook het om Zuma se sperdatums na te kom en kortpaaie in die tenderproses geneem is.

Geld is ook van ander programme oorgedra om besteding waarvoor daar nie begroot is nie, te akkomodeer.

Onder die verbeteringe waarvoor die staat betaal het, is 20 personeelhuise, ‘n wassery, snoepie, rioolpompstasie, rioolbehandelingsaanleg, veetoneel, vulliskompakteringseenheid en vullisterrein.

Volgens die Hansard het Zuma by twee geleenthede gesê dat die staat slegs vir veiligheidsopgraderings betaal het en dat die Zuma-familie vir die huisvesting betaal; hy het bloot tot die staat se voorskrifte ingestem.