Zimbabwe se foefie-verkiesing


Die Uitsaai-owerheid van Zimbabwe het nou so vêr gegaan as om alle selfoonmaatskappye soos Vodacom en MTN te verbied dat groot volumes SMS’e deur hulle stelsels gestuur word. Dit is blykbaar ’n poging om ’n stokkie gesteek te kry voor die pogings van Morgan Tsvangirai se MDC-opposisie, om ondersteuners te mobiliseer.

Politieke kenners en internasionale waarnemers meen dit is ’n uiters ongewone stap van pres. Robert Mugabe se Zanu-PF om die MDC op so ’n wyse uit te knikker.

Die verkiesing wat Woensdag plaasvind word gehou in uiterste omstredenheid.

Die Opposisiepartye weet nie eers waar die verskillende stemlokale is nie.

Met slegs twee dae oor voor die verkiesing wil dit voor kom dat die Zimbabwiese verkiesingskommissie (ZVK) nie gereed is om die meer as 6 miljoen kiesers te laat stem nie.

Die ZVK het nog nie die kieserslys óf inligting oor die byna 10,000 stem lokale aan opposisiepartye bekend gemaak nie.

Waarnemers meen dat die opposisie-partye erg gekniehalter word omdat die versending van massa boodskappe per selfoon verbied is.

Kommer bestaan ook onder opposisiepartye dat die weermag met erge intimidasie die kiesers gaan beïnvloed.

Mugabe het in Masvingo vir duisende Zanu-PF-ondersteuners duidelik laat verstaan dat hy nie tevrede is met die feit dat hulle in 2008 nie ’n oorwinning vir sy party bewerkstellig het nie.

Pres. Jacob Zuma het Lindiwe Zulu, sy raadgewer, verlede week stilgemaak omdat sy bedenkinge uitgespreek het oor die Zimbabwe-verkiesing.