“Wit Boere” se eis slaag


Die SAPD moet al weer skadevergoeding betaal aan twee blankes nadat hulle die blankes “wit boere” genoem het, hulle ook geslaan, onregmatig gearresteer en aangehou het.

Die Hooggeregshof in Pretoria het beveel dat die Minister van Polisie R124, 760 plus rente aan mnr. Vian Groenewald te betaal, en R134, 080 plus rente aan mnr. Werner Wessels.

Dié twee manne was nog studente en hul maat, Jacques Geldenhuis het die aand van 29 April 2011 in Stellenbosch probeer om ’n geveg tussen twee ander mans te stop, toe die polisie hulle in hegtenis geneem het.

Die drie is meer as vier uur by ’n polisiekantoor aangehou en die studente met snedige opmerkings geteister.

Groenewald het in die hof getuig dat ’n polisielid hom op albei ore geslaan het sodat hy vir 20 minute lank nie kon hoor nie.

Wessels het vertel hy is só hard op die linkeroor geslaan dat hy sy bewussyn verloor het en toe hy opstaan, het hulle hom weer geslaan.

Geldenhuis woon tans in Brittanje en kon nie getuig nie. Hy het egter ’n eis ingedien en dit is gewen, maar die bedrag wat aan hom toegeken moet word is nog nie bepaal nie.