Vryheid in ’n nuwe land


Twee leeus en hulle twee welpies, asook twee tiers wat agt weke gelede uit baie swak toestande in ’n dieretuin in Roemenië geleef het, is nou in die Vrystaat losgelaat waar hulle vrylik kan rondbeweeg.
Die internasionale diere-welsynorganisasie ‘Four Paws’ het die ses diere na die Lions Rock-oord in Bethlehem laat gaan waar hulle nou nader aan hulle natuurlike omstandighede kan leef.
Die twee leeuwelpies was baie verwaarloos en X-strale het getoon dat hul beenstruktuur nie behoorlik gevorm het nie. Aanvullings soos kalsium is egter by hul daaglikse dieet gevoeg om die ontwikkeling van hul bene te bespoedig.
Dr. Marina Strydom het die welpies versorg en ook die wonde aan hulle pootjies behoorlik verpleeg.. Na etlike weke het sy gesien hoe die welpies se toestand radikaal verbeter het.
Volgens x-strale wat later geneem is, het die ontwikkeling van hul tande en bene baie sodanig verbeter dat hulle vêrdere ontwikkeling sonder enige probleme sal wees.
Dit is die tweede besending roofdiere wat uit Roemenië na Suid-Afrika gebring is omdat hulle uiters swak versorg is deur hulle eertydse base. Vroeër vanjaar is vier leeuwelpies na Suid-Afrika gebring.