Vir die huisvrou- Noga


Goeie dag dames (en mans wat ook die liefde vir kos-maak deel).

Vir die volgende paar weke gaan ons ‘n paar lekkerny-resepte met u deel. Ons skop af met ‘n heerlike noga resep. Geniet dit!

Noga:
375 ml suiker
250 ml gouestroop
125 ml water
Knippie sout
1 eierwit, styf geklits
60 ml glanskersies, gekap
250 ml neute, grof gekap
2 ml vanielje geursel

Meng die suiker, stroop, water en sout. Verhit dit en roer dit voortdurend totdat die suiker opgelos is.
Kook dit verder, sonder om te roer, tot die sagtebal stadium.
Haal dit van die plaat af en gooi dit in ‘n dun straaltjie oor die styfgeklitste eierwit. Klits dit voortdurend met ‘n elektriese klitser.
Wanneer die mengsel fatsoen behou, roer die kersies, neute en geursel by.
Gooi dit in ‘n gesmeerde oondpan.
Laat staan oornag en sny dit dan in blokkies.