VERSET! (Tweede aflewering)


In die eerste aflewering het ons bespreek of verset wel Christelik regverdig kan word. Die keer kyk ons bietjie na die verset model wat ons voorouers toegepas het.

BOEREVERSET

FW de Klerk se verraad in 1992 beskou baie van ons volksgenote as die grootste vernedering wat ons volk nog gely het. Daar was egter net so groot vernedering vir ons volk op 12 April 1877 toe Shepstone met net 25 polisiemanne sonder enige slag of stoot die Transvaal geannekseer het en die Union Jack gehys het. Die oorname was vooruitgegaan deur President Burgers wat ‘n liberale hervormingsbeleid begin toepas het, en so die volk se veggees en vryheidsgees geblus het. Eers toe die harde werklikheid van vreemde oorheersing tot die volk gekom het, het hulle ‘n verset-gees begin ontwikkel.

Kruger het in daardie tyd die weg van onderhandelinge gevolg. Daar is ‘n vryheidsafvaardiging verkies om die volk se vryheid te gaan opeis. Die eerste vryheidsafvaardiging was Kruger en Jorissen. In Desember 1877 het die afvaardiging egter met onverrigte sake teruggekom. 7 Januarie 1878 het sowat 1000 burgers opgedaag in PTA om verslag te kom ontvang van die vryheidsafvaardiging. Dit was ‘n onstuimige vergadering en die leiers was self baie verbaas om die verandering in die volk waar te neem. Die volgende stap wat Kruger hulle gevolg het was om ‘n versoekskrif op te stel wat die volksgenote moes teken. Die versoekskrif het dit duidelik gestel dat die volk sy vryheid wil terughê. Tydens die tydperk van handtekening insameling is daar 5 volksvergaderings belê. Die eerste was in April 1878 waartydens 1154 boere byeengekom het by Doornfontein ten spyte van Shepstone se verbod op publieke vergaderings. Daarna is die vryheidsafvaardiging weer gestuur na die Engelse. Hulle het egter weer teruggekeer met onverrigte sake.

Die patroon van vryheidsafvaardiging, verslag en volksvergaderings het egter begin vrugte afwerp. Die volk het in meer en meer getalle by die vergaderings opgedaag en allomeer lydelike verset begin toepas. Die getalle van die volksvergaderings toon duidelik dat die volk al hoe meer oortuig begin raak het dat verset die enigste uitweg was :

Doornfontein April 1878 1154

Kleinfontein Maart 1879 11 maande na vorige 4000

Wonderfontein Desember 1879 10 maande na vorige 5000

Paardekraal Desember 1880 12 maande na vorige 10000

Wat ook interessant is, is ‘n meningsopname wat by Kleinfontein gehou is. Daar is gekyk of die volk reg is vir gewapende protes of nie. Daar was 219 burgers ten gunste van geweld, 154 ten gunste van lydelike verset en 1137 wat gewillig was om die meerderheid se besluit te aanvaar. Tans is dit net so met ons volk. Net ‘n handjie vol is bereid om ‘n besluit te neem. Die res val by die meerderheid in.

Tydens die openbare vergaderings is dit egter belangrik om te weet dat die lydelike verset deurentyd teenwoordig was. Daar was voorvalle van openlike verontagsaming van die landswette. Betalings van belastings is ontduik, ammunisie is onwettig verkry en daar was geweier om voor die howe te verskyn.

Daar was egter twee groot aksies van lydelike verset wat uitgestaan het bo die res. By Wonderfontein se vergadering is die Vierkleur weer vir die eerste keer gehys (dit was verbied). Britse gesag was luidkeels verwerp. Pretorius was as gevolg hiervan op 5 Januarie 1880 vir hoogverraad in hegtenis geneem. Daar het as gevolg daarvan 300 gewapende burgers opgeruk in Potchefstroom. Kruger moes dadelik soontoe gaan om die burgers tot bedaring te roep.

Die mees bekendste voorval van lydelike verset was sekerlik die voorval van Bezuidenhout se wa. Die vorm van lydelike verset was die vuurhoutjie in die kruitvat. Bezuidenhout het geweier om belasting te betaal, waarna die landdros beslag gele het op sy wa. Die wa moes op 11 November 1880 per openbare veiling verkoop word. Cronje en 100 boere het egter hul opwagting gemaak en die bode van die hof van die wa geruk en die wa terugbesorg aan Bezuidenhout. Die gort was gaar en die Paardekraal vergadering was daardeur vervroeg van Januarie 1881 na 8 Desember 1880.

By Paardekraal was daar besluit op oorlog sodat ons volk weer kon vry wees. As ons dan die Boere-verset model opsom, sal dit wees :

1. Vryheidsafvaardiging

2. Verslag en volksvergadering

3. Versoekskrif

4. Lydelike verset

5. Aktiewe verset

6. Wapenstryd

Die uitkoms hiervan was gevegsgereedheid, gevegsgedugtheid, roemryke oorwinnings, VRYHEID!

Die Boerevolk word nou opgeroep tot ‘n groot waagstuk. Kom ons wees eerlik en reguit met mekaar. Vryheid het altyd ‘n duur prys om te betaal. In ons volk se geskiedenis was die vryheid selfs so duur soos 26 000 vrouens en kinders. Ons volk staan nou voor die kruispad. Verset, of vlug. Immigreer of verset. Elkeen van ons sal nou moet kies. Gaan ons veg of gaan ons vlug. Ek kies die Boere verset model. Kom ons verkies ‘n volksraad (vryheidsafvaardiging) en laat hulle ons vryheid gaan opeis. Laat hulle terugkom en verslag doen aan die volk. Ons as volk sal tesame hiermee moet begin met lydelike verset. Dit mag dal oorspoel na aktiewe verset en selfs na gewapende verset. Maar laat ons dit end uit doen. Laat ons nou al begin praat van VERSET! Dit kan nie meer ‘n geborge, geslote term in ons volksmond wees nie. Dit moet deur ons gepraat en gedoen word. Die term moet in ons kinders se taal gevestig word. Ons volk kan net oorleef deur in verset te gaan. Verset nie net omdat ons wil nie, maar ook omdat dit ons Christelike plig is!

Jan Beyers