Vere waai oor hoendermishandeling.


Die vere waai nadat die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) en Astral Foods mekaar met regstappe dreig.

Die NDBV beweer hoenders word deur Astral se pluimveegroep, Early Bird, mishandel en daarna verkoop om geëet te word.

Grace de Lange van die NDBV het gesê hulle gaan regstappe teen Astral Foods neem nadat hulle tydens ‘n roetine-ondersoek in Tshepisong, Roodepoort, op hoenders afgekom het met gebreekte vlerke, bene en wonde wat vol maaiers was.

Sy het gesê dat sy geskok was en dat die hoenders nie kos of water gehad het nie. Sy het verduidelik dat die Suid-Afrikaanse pluimveegroep “ou henne,” wat vir teling gebruik word, aan smouse verkoop wat hulle weer in landelike gebiede verkoop.

Volgens die NDBV het hulle gesien hoe sowat 1,520 hoenders, meestal mishandel, by die winkel afgelaai word. Dit is aan hulle bevestig dat die hoenders van die Early Bird-plaas in Villiers (Vrystaat) afkomstig is.

Wat die NDBV nou behoorlik die hoenders in het, is die feit dat hulle ‘n waarskuwing aan Early Bird uitgereik het, waarop nie gereageer is nie. Daarom word die saak nou verder gevoer.

In reaksie het Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods dié aantygings ontken en gesê hulle gaan regstappe teen die NDBV neem. Volgens hom is die storie lasterlik en deurtrek met foute.

Schutte het erken dat die hoenders by hulle smouswinkel verkoop word, maar het gesê dat die mishandeling plaasgevind het nadat die hoenders die plaas verlaat het.

Volgens Schutte gaan hulle ook regstappe neem teen die kontrakteur wat die mishandelde hoenders in Tsepisong, Roodepoort, verkoop het.