’n Veldbrand langs die N4 hoofweg naby Bronkhorstspruit is die hoofoorsaak vir ’n enorme ongeluk waarin 13 voertuie en twee vragmotors Sondag betrokke was.
Die rookwolk het oor die pad getrek en die sig belemmer. Een reisiger vertel dat die motor voor hulle s’n se noodligte aangegaan het en toe “verdwyn” het. Die volgende oomblik was hul motor in ’n botsing teen die voorste een. Kort daarna het die een voertuig na die ander teen die stilstaande voertuie gebots.
Om alles nog slegter te maak, het twee vragmotors ook nog in die botsing betrokke geraak.
Een Persoon is op die toneel dood en een moes dringend per helikopter na ’n hospitaal in Pretoria geneem word.
Altesaam 54 mense is in die massa ongeluk beseer.
Ongelooflik!!! Ongelooflik. Ek en my vrou het ‘n soortgelyke ervaring op die N1 tussen Kroonstad en Sasolburg gehad, sowat 2 jaar gelede.
Daar was ‘n botsing waarin die een voertuig aan die brand geslaan het. Die brandende voertuig het die veld aan die brand gesteek en ‘n reuse rookwolk veroorsaak, wat gedeeltelik oor die N1 gehang het. Alhoewel ons baie stadig gery het, het ons besluit om nie te stop nie, maar om stadig vorentoe te beweeg….natuurlik met ons ligte aan. Ten spyte daarvan het voertuie uit altwee rigtings teen hoë snelhede (ek skat tussen 80 en 100km/h) by ons verby gery. Gelukkig het my vrou probeer om so ver links as moontlik te hou.
Ek kan nie dink dat ‘n mens wat soveel verstand het om ‘n voertuig te kan bestuur, so onverantwoordelik kan wees nie. ‘n Mens ry mos nie blindelings in ‘n rookwolk of miswolk in waarin jy niks kan sien nie!
Of daar weer later ongelukke en botsings was, weet ek nie. Ons het, na sowat 100 meter in die rookwolk, veilig anderkant uitgekom. Maar, dit nadat ons by stilstaande voertuie moes verby gaan. Altwee soorte voertuie skep ‘n gevaar – die stilstaande voertuie sowel as diegene wat vinnig deurgejaag het.
Die tragiese van die saak is dat daar waarskynlik méér onskuldige passasiers in so ‘n situasie sterf, as wat die onverantwoordelike bestuurders sterf.