Twee SA vlieëniers gedood.


Twee Suid-Afrikaanse vlieëniers wat toevallig ‘n “rol” in die jongste Batman-rolprent gespeel het, is dood na hulle vliegtuig by Francistown in Botswana neergestort het.

Ironies genoeg het die vliegtuig, ‘n Embraer Bandeirante wat in The Dark Knight Rises wat verlede jaar uitgereik is, ook met behulp van spesiale effekte opgebreek is.

Rob Tasker (75) en Lindy Brooks (56) van Batair Cargo by die Lanseria-lughawe in Randburg was ook die vlieëniers toe die deel van die rolprent waarin die vliegtuig gebruik is, in Brittanje verfilm is. Hulle het verlede jaar spesiaal Brittanje toe gevlieg met die vliegtuig.

Die twee was verlede Saterdagogend vroeg van Lanseria onderweg na Lubumbashi in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) toe hulle by Francistown wou brandstof inneem.

Digte mis het gemaak dat hulle die aanloopbaan vermoedelik met die eerste probeerslag gemis het. Hulle het lugbeheer laat weet dat hulle gaan omdraai en weer gaan probeer. Hulle het genoem dat hulle die aanloopbaan kan sien.

Dít was die laaste kommunikasie. Die wrak van die vliegtuig is sowat twee uur later in ‘n dig beboste gebied sowat 10 km van die aanloopbaan gevind.

Groot onduidelikheid heers oor wat gebeur het. Een van hulle is glo onderweg na die hospitaal dood en een later in die hospitaal. Beide was ervare vlieëniers wat die roete geken en dikwels gevlieg het.

‘n Vriend van Tasker, Piet Nel het gesê dat die vrag wat hulle vervoer het, niks oorgekom het nie en kon dit net so opgelaai en verder geneem word.

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid het ook teen gister reeds ’n ondersoekspan op die toneel gehad om saam met hulle eweknieë in Botswana die ongeluk te ondersoek.

Die vraag wat niemand hardop vra nie is of die beheertoring behoorlike werk gedoen het om die vliegtuigloots by te staan.