TLU SA wil nie President se neef help ryk maak nie


TLU SA is nie bereid om betrokke te raak by enige projek om geld te kanaliseer na familie van pres. Jacob Zuma nie.
Dit is die reaksie van mnr. Louis Meintjes, TLU SA se president, nadat dit aan die lig gekom het dat pres. Zuma se neef waarskynlik die grootste voordeel kan trek uit die Masimbambisane Rural Development Initiative.

“TLU SA was teenwoordig toe pres. Zuma die nuwe jaar se projekte aangekondig het en waar hy gevra het dat georganiseerde landbou daarby betrokke moet raak. Daar is toe inderdaad aangekondig dat ongeveer R900 miljoen staatsgeld daarin gepomp gaan word,” sê mnr. Meintjes. Daar word beoog om 1 miljoen hektaar grond onder voedselproduksie te plaas, maar daar is geen aanduiding gegee van hoe die geld bestee gaan word nie.
Daar kan ook nie behoorlik rekenskap gegee word oor die geld wat die afgelope jaar bestee is nie. Sulke projekte behoort gemeet te word aan die oppervlakte wat bewerk is, hoeveel hektaar geplant is, wat was die koste gemeet aan kommersiële landbou standaarde, die opbrengs, wat die wins was. En of die produk kompeterend is in ‘n vrye mark ekonomie. Hierdie antwoorde is nie gegee nie.

Daar is ook’n groot vraag oor die aanwending van die fondse. Hoeveel van die geld is werklik gespandeer op die grond waar die boer dit nodig het?

Volgens die program wat verskaf is, was hulle reeds agter met die implementering en gaan hulle in alle waarskynlikheid te laat wees vir die somer aanplanting.

Maar met die Staat se ruim bydrae is daar wel dadelik ’n familielid van die President beskikbaar om die projek te bestuur. Wat sy kennis van landbou is, is tot dusver ook onseker.
“Hierdie is ’n tweede Nkandla,” sê mnr. Meintjes. “Alhoewel TLU SA hom verbind tot voedselsekerheid in die land, doen hy dit vanuit die perspektief dat die kommersiële landbouer volhoubaar op sy grond gehou moet word as prioriteit. Tweedens moet die staat sy eie grond beskikbaar stel aan nuwe projekte en toesien dat hierdie projekte op volhoubare ekonomiese beginsels bestuur word, en nie deur moontlike nepotisme nie.”