Taiwanese boer help plaaslike boere.


‘n Afrikaanssprekende Taiwanese sampioenboer in die Vrystaat, help plaaslike boere om sampioene te kweek danksy biotegnologie afkomstig van Taiwan.

In 2009 het Andy Weng binne weke ‘n sampioenboerdery in Ladybrand op die been gebring. Hy het ook ander boere gehelp nadat hy van prof. Charles Chen van die Suid-Taiwanese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie te hore gekom het.

Weng het in vlot Afrikaans vertel dat ‘n sampioenboerdery die ideale manier is vir ‘n boer om sy inkomste aan te vul omdat hy deur die jaar kan oes en verkoop. Die boerdery verg ook min geld en ruimte.

Prof. Chen het ‘n unieke metode vir die ontwikkeling van sampioensoorte soos oester- en sjiitaki-sampioene ontwikkel. Weng het die metodes gratis aan ander belangstellendes begin leer. Die metode stel ‘n boer in staat om binne vier weke die eerste oes af te haal en daarna weekliks verder te oes.

Weng het op Fouriesburg en Ficksburg skoolgegaan en aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer. Hy praat Afrikaans, Engels en Manderyns vlot.