Swanger meisies kan skoolgaan.


Die beleid van twee Vrystaatse skole se beheerliggame om swanger meisies die skool te verbied, is ongrondwetlik en moet hersien word, aldus ‘n beslissing van die Grondwethof.
Die eintlike probleem het gegaan oor die Hoof van die Vrystaatse Onderwysdepartement wat die hoofde van die skole met tugverhore dreig indien hulle die meisies nie weer toelaat nie. Slegs vier van die 11 regters het die Departementshoof se swangerskap-beleid as grondwetlik goedgekeur.
Die Regters het die skole, Welkom High School en Harmony High School op Virginia, opdrag gegee om hul beleid oor swanger leerlinge te hersien om te verseker dat dit voldoen aan die Grondwet se vereiste van kinders se reg op opvoeding en dat daar nie teen hulle gediskrimineer mag word nie.
Hoewel Vrystaatse skole betrokke is, raak die uitspraak elke Provinsiale Departementshoof in die land. Die meerderheid van die regters het gesê solank skole se beheerliggame enige beleid ingevolge wettige voorskrifte aanvaar het, het geen Provinsiale Departementshoof die reg om met ‘n ystervuis op die skoolhoof af te kom nie.
Hulle het ook bevind dat hoewel die beleid van die skole ongrondwetlik is, het die Departementshoof geen reg gehad om op eie houtjie in te gryp nie.
Die vraag ontstaan of daar ‘n einde aan dié sage is. Is die volgende stap nie dat die Grondwethof sal moet besluit of dit diskriminasie is as die voorheen swanger meisie nou ‘n moeder is wat nie toegelaat sal word om haar baba in die klas te borsvoed en sy doeke om te ruil nie?