Straatname stil-stil verander


Pleks van paaie in stand te hou, is dit skynbaar belangriker vir die ANC om liewer net straatname te verander.

Die nuutste in dié verband is ‘n naamsverandering in Johannesburg waarin 18 historiese straatname verander word. Opposisiepartye het saamgestem dat ‘n belangrike deel van die stad se geskiedenis nou vernietig word.

Markstraat, Bezuidenhoutstraat, Kitchenerweg en ‘n klomp ander word nou na Albertina Sisulu, vrou van die voormalige ANC-leier, Albert Sisulu vernoem.

Soos verwag kan word, is die stap ook so onder die tafel deur gedoen; ‘n optrede wat elke daad van die ANC-bewind illustreer. Die Sentraal-Transvaalse Premier, Nomvula Mokonyane, het in Februarie tydens haar provinsiale rede aangekondig dat die regering “ondersoek” die moontlikheid om die name te verander.

Teen gister egter is die nuwe naam reeds op straatbordjies en randstene in die Goudstad aangebring en rooi strepe oor die ou name geplaas.

Nthatisi Modingoane, woordvoerder van die metro, het gesê die naamverandering is in pas met die nuwe Suid-Afrika en die verandering van paaie en strate na Albertina Sisulu is ‘n gepaste wyse om MaSisule te vereer vir haar bydrae tot demokrasie in Suid-Afrika.

Die R21/24-hoofweg wat Pretoria met die Kemptonpark-lughawe verbind, is reeds in 2007 na Sisulu vernoem. Die jongste naamsverandering verleng Albertina Sisuluweg van die Oos-Rand, deur die mddestad tot by Hoofrifweg aan die Wes-Rand.