Sonkragaangedrewe vliegtuig land in New York.


Die Solar Impulse-vliegtuig wat slegs deur sonkrag aangedryf word, het Saterdag in New York geland.

Nie net is dit die eerste vliegtuig wat dag en nag op sonkrag kan vlieg nie, maar is ook die eerste om ‘n reeks vlugte van San Francisco na New York te vlieg.

Die laaste skof was van Washington DC tot in New York. Die vliegtyd was 18 uur.

Die vliegtuig het die vlerkspan van ‘n Boeing, maar weeg soveel as ‘n klein motor. Dit stoor sonkrag van 12,000 sonselle in sy vlerke.

Die vliegtuig is ontwerp met die doel om ondersteuning van en belegging in skoner energiebronne te bevorder.