Snowden veroorsaak internasionale spanning


Bolivia beplan om by monde van hulle gesant ‘n beswaar by die VN-hoof, Ban Ki-Moon aan te teken nadat ‘n paar Europese lande dit verbied het dat President Evo Morales se vliegtuig oor hulle lugruimte vlieg.

“Die besluit van hierdie lande is ‘n gruwelike aantasting van internasionale reg,” het Bolivia se ambassadeur by die VN, Sacha Llorenti in Geneve gesê.

Bolivia sê dat Frankryk, Portugal en Italië aanvanklik die oorvlugregte van Morales se vliegtuig verbied omdat hulle vermoed het dat die Amerikaanse fluitjieblaser, Edward Snowden aanboord mag gewees.

Na ‘n oorstaan van meer as 12 ure in Wene is die vliegtuig op pad na die eiland Las Palmas by die Spaanse Kanariese Eilande vir ‘n diens alvorens dit verder na Bolivia gaan.

Llorenti sê dat die vertraging gelyk is aan ‘n “daad van aggressie” teen Bolivië; dat dit beskou kan word as ‘n “ontvoering” van Morales wat groot skade aan diplomatieke verhoudinge kan veroorsaak. Hy het gesê dat die saak verder aangespreek sal word.

Die vliegtuig het oorspronklik in Moskou opgestyg – waar Morales op besoek was en Snowden vasgevang is in die lughawe se deurgangarea – voordat dit geforseer is om in Wene land te land.

“Dit het die lewe van die President, sy afvaardiging en die bemanning van die vliegtuig in gevaar geplaas,” sê Llorenti.

“Ons het geen twyfel dat dit ‘n bevel van die Amerikaanse Wit Huis was nie.” Bolivië is een van die 21 lande waar Snowden om assiel gevra het, maar Llorenti sê dat hulle nie die aansoek ontvang het nie.

Hy het die spot gedryf met die lande wat die vliegtuig verbied het en gesê dat van hulle het luidkeelse kritiek teen die VSA se afluistering gelewer wat deur Snowden onthul is.

“Hulle is nou klei in die hande van die VSA. Dít is wat die kolonies van Latyns Amerika in die negentiende eeu was.
Vandag is sommige Europese lande Amerika se nuwe kolonies.”