Skoenmaker se lees


Die geur van oorduur aarbeie en room was die laaste tyd in die lug. Wimbledon tyd! Saam met die reuk was die geluide wat klink soos die stemopwarming van operasangeresse as Azarenka of Sharapova speel of die manlike uitroep van ‘n Knysnaboshoutkapper wat sy groottoon met ‘n stomp byl in twee deel wanneer erena Williams speel. Maar hierdie jaar se storie gaan oor ‘n nuwe gesiggie of twee op die groot verhoog (en in pommieland oor een of ander ou wat vir die eerste keer in sy eie agterplaas gewen het).

Ek wens soms dat elke skoenmaker hom sal hou by sy lees. Dit is irriterend as sangers begin toneel speel, sportsterre begin sing en oud rugbyspelers aanbieders word sonder dat hulle ooit geleer het om ’n “SH” klank uit te spreek. Die nuutste is dat die Wimbledon wenner Marion Bartoli beweer dat sy ’n IK van 175 het! Hond se kierie! Dit is net so 15 meer as Einstein! Die gemiddelde IK vir ‘n blanke is so 100, dit verg normaalweg so115 om ‘n nagraadse kwalifikasie te kry, 120 is ver bo gemiddeld en 140 is geniaal. Dan kry jy nog ‘n vlak of twee voor jy by Bartoli uitkom. Om so Ik te hê is so skaars soos jeugligalede met matriek!

Ek weet egter nie eers van hierdie uitlating van haar nie, aangesien sy, net na sy die media vertel het van haar geweldige intellek, ook vir hulle vertel het dat sy dit vir niemand vertel nie, behalwe natuurlik vir die media! Sy beweer sy steek dit weg!…op die voorblad van die koerant!

Noudat almal egter wel daarvan weet, kan sy daardie superpit van haar dalk inspan om ’n goeie oefenprogram uit te werk, want, laat ons nou maar eerlik wees, ’n sumo-stoeier behoort vet te wees en ‘n hoogspringer lank, maar ek hou van my Wimbledon vroue kampioene klein en viets! Anders laat dit my glo dat ek ‘n maraton sou kon hardloop en dan kan ek niemand dagvaar vir die katastrofiese gevolge nie!

Vet mense het maer sportsterre nodig om hul drome te demp tot ‘n billike vlak van realisme! Kyk nou maar hoeveel renosterjoggies gaan nou skielik by jou plaaslike tennisklub opdaag!

Feit is, ons soek rugbyspelers wat kan speel, nuuslesers wat kan lees renjaers wat kan jaag en tennisspelers wat goed lyk in ‘n wit rokkie (al is hulle dom)!

Tot volgende slag
Die Sweep