Sal Noord-Colorado kan afstig?


Die volgende reeks samesprekings het plaasgevind tussen tien distrikte in die noorde van Colorado wat van die staat wil afstig.

Die beplanning is dat die tien distrikte in een staat saamgevoeg sal word en as “Noord-Colorado” bekend sal staan. Die tien distrikte eis sesessie van die staat en nie van die VSA nie. Hulle wil graag die 51ste staat van die VSA word.

Die leiers van die beweging sê dat “Noord-Colorado” oor ‘n bevolking van meer as 300,000 mense sal beskik en dat dit die 42ste grootste staat sal wees. Daar is onlangs ‘n vergadering in Akron gehou om die grense van die nuwe gebied te trek.

Landbou, olie en gasindustrieë sal die vernaamste wees. Trouens, 80% van die olie- en gasinkomste kom van die distrikte wat wil wegbreek. Die nuwe streek sal egter ‘n probleem met waterregte ondervind.

Ander probleme is dat selfs al word sesessie deur die staat van Colorado goedgekeur, het die Amerikaanse Kongres die finale sê.

Die organiseerders egter sê dat hulle voortgaan en dat ander state ook geïnteresseerd is om saam te kom. Selfs in die naburige Kansas is daar distrikte wat wil saamsmelt.

Die organiseerders sê hulle weet dat dit nie maklik sal wees nie, maar hierdie is solank ‘n begin. Hulle hoop om teen November vanjaar ‘n stemming te hou.