Reg tot privaatbesitreg


Die beginsel van eiendomsreg kom al hoe meer in gedrang, sê die president van TLU SA, mnr. Louis Meintjes. Die Grondwet stipuleer dat eiendomsreg beskerm moet word en dit is dus die regering se verantwoordelikheid om dit in stand te hou. Die harde werklikheid is dat die regering seker die grootste oortreder is wat die beginsel van eiendomsreg aantas, veral in die landbou-omgewing.

Die landbougrond is tans in die spervuur, maar sodra die beginsel gevestig is van die verdeling van bates by landbougrond, sal die res van die ekonomiese sektore ook volg, waarsku mnr. Meintjes. “Hierdie is nie net ‘n landbou probleem nie, maar ‘n Suid-Afrika saak. Besighede behoort saam met landbou reeds in hierdie eerste ‘loopgraaf’ te kom help om die regte beginsels gevestig te hou.”

Daar is waardering vir AfriSake en die Vryemarkstigting wat in dié verband standpunt ingeneem het. TLU SA het geruime tyd gelede reeds ‘n kongresbesluit geneem dat dit gaan nodig word dat ‘n breë linie van belanghebbendes hulle gewig saam moet ingooi om die nodige wringkrag te bewerkstellig om die basis van ekonomiese stabiliteit, naamlik die beginsel van privaat besitreg, te beskerm. TLU SA is verbind en bereid vir samewerking en reik derhalwe uit na AfriSake (en soortgelyke potensiële bondgenote).