Primarentekoers bly onveranderd


Die Reserwebank (SARB) het besluit om die repokoers, waarop die prima rentekoers gebaseer word, weereens onveranderd te hou. Die repokoers bly op 5%, wat dus meebring dat die primakoers steeds op 8,5% bly. Die repokoers is die rentekoers waarop banke geld leen by die SARB.

Die besluit van die SARB oor die repokoers bly steeds ‘n moeilike saak. Aan die een kant moet die sukkelende ekonomie gehelp word en dit kan gedoen word deur die rentekoers te verlaag, aan die ander kant dreig inflasie om kop op te tel en om dit teen te gaan moet die rentekoers verhoog word. Die besluit om die repokoers onveranderd te laat is geneem met die verwagting dat die toename in die inflasiekoers slegs tydelik is. Inflasievooruitsigte vir 2013 word op 5,9% gestel en op 5,5% vir 2014. Die SARB stel hom ten doel om ‘n beleid toe te pas wat inflasie onder 6% moet hou. Ekonomiese groeivooruitsigte is weereens deur die SARB afwaarts aangepas en staan nou op 2,0% vir 2013. Dit is ook met 0,2% verlaag tot 3,3% vir 2014.

Ekonome verwag dat die rentekoers onveranderd gaan bly tot in die tweede helfte van aanstaande jaar waarna dit geleidelik opwaarts aangepas sal word.