President Morsi uitgeskop


President Mohamed Morsi is deur die Egiptiese weermag van alle magte gestroop. Die grondwet is ook opgeskort. Hierdie aankondiging is deur Generaal Abdel Fattah el-Sisi gemaak waarin hy ook gesê het dat die hoofregter van die Grondwetlike Hof as tydelike President sal waarneem.

Intussen het Morsi na ‘n onvermelde plek vertrek. Morsi het gesê dat hy nie die militêre oorname aanvaar nie en beroep op die Egiptenare gedoen om dit te opponeer.
“Die toespraak van die president die vorige dag het nie aan die verwagtings van die massas voldoen nie,” het Sisi gesê en genoem dat die weermag samesprekings oor ‘n wye spektrum met verskillende groepe gevoer het om die pad vorentoe uit te werk.

Hy het gesê dat deel van die plan is om die Grondwet te ontbind en so vroeg as moontlik weer ‘n presidensiële verkiesing te hou. Hy het ‘n oproep gemaak vir die samestelling van ‘n paneel wat die grondwet kan hersien asook ‘n nasionale versoeningskomitee wat jeugbewegings sal insluit.

Die Pous van die Koptiese Ortodokse Kerk van Egipte, Tawadros , het gesê die plan van die weermag sal sekuriteit vir alle Egiptenare verseker asook ‘n politieke visie, aldus media verslae.

President Morsi se kantoor het ‘n verklaring uitgereik in reaksie op sy verwydering deur die Egiptiese weermag. Dit lui as volg:

“Dr. Mohamed Morsi, President van Egipte, benadruk dat die maatreëls wat deur die Uitvoerende Bevel van die Gewapende Magte uitgereik is, gelyk is aan ‘n coup d’état wat ons kategories ten volle verwerp namens al die eerlike, eerbare mense wat gestreef het vir die transformasie na demokrasie.
“Die President benadruk, in sy kapasiteit as die President van die Republiek en hoof van die weermag, dat alle burgers, leiers en soldate onderhewig is aan die Grondwet en die wet; om nie op hierdie coup te reageer wat Egipte terug in die donker eeue sal gooi nie; en om kalmte te handhaaf en bloedvergieting te vermy.”
Foto: miljoen protesteer op Tahrirplein, Kaïro.