Polisie ignoreer ernstige waarskuwings.


Polisiebeamptes het gister ‘n kennisgewing van die Departement van Arbeid geïgnoreer en gewoon met hulle take aangegan ofskoon dit gelas is dat niemand die Trebob-gebou in Bloemfontein mag betree nie.

‘n Aanduiding van hoe gevaarlik die gebou is, is dat balke en stutte aangebring is om dit regop te hou. Ander beamptes soos speurders van die Parkweg-polisiekantoor, die eenheid vir vermiste persone en werkers by die plaaslike misdaadrekords en kommersiële eenheid het buite die gebou gesit voordat hulle huis toe gestuur is.

Die Trebob-gebou is met die laaste inspeksie Vrydag onveilig verklaar en ‘n kennisgewing is aangebring wat toegang tot die gebou verbied. Volgens die kennisgewing het die gebou diep strukturele krake op betonblaaie en vragdraende mure.

Kol. Sam Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, het ontken dat lede die wet oortree deur steeds in die gebou te werk. Volgens hom het hulle slegs toerusting verwyder en ontkoppel. Die meeste van die speurders word reeds by die Parkweg-polisiekantoor geakkomodeer.

Hy het gesê dis die departement van openbare werke se verantwoordelikheid om ‘n ander gebou vir die lede te kry.