Polisie huisves talle skurke


‘n Vraag wat nou dringend gevra moet word is: indien ‘n regering landswette verbreek en ‘n polisiediens wette oortree – hoe wettig is enige wet nog?

Luitenant-Generaal Mzwandile Petros, Provinsiale Kommisaris vir Sentraal-Transvaal het aangekondig dat 1027 Polisie-offisiere gearresteer is en 463 ontslaan is vir korrupsie en verskeie ander oortredings.

Twee konstabels van Pretoria en een van Alexandria is verlede week vasgetrek nadat hulle bystand verleen het om misdadigers te laat ontsnap.

Volgens Petros is die geveg teen korrupsie en kriminaliteit een van die pillare van die Sentraal-Transvaalse Polisiërings Strategie. Hy sê daar is meer as 42,000 polisielede in diens en die meeste van hulle dien met trots en poog om die Grondwetlike beginsels in stand te hou. “Dis ‘n klein groepie wat die beeld van die SAPD afbreek en hulle moet uit die geledere geskop word,” het hy gesê.

Hy het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om inligting i.v.m. wanpraktyke by 08600 10 111 aan te meld of ‘n sms na 32211 te stuur.