Penkoppe se Dagkamp


Die tak van die Penkoppe op Donkerhoek het op 26 Junie 2013 hul eerste dagkamp gehou. Teen agtuur op die heerlike kil wintersoggend is al elf Penkoppe asook vier voornemende Penkoppe om die twee Voorgangers, Claudia Beyers en Chantal Kruger, geskaar. Sommer dadelik word die gasbottels en panne gereed gemaak om ‘n vinnige, vullende ontbyt gereed te kry. Die ses-jarige Barend het die uie gebraai en die dogters het gesorg vir eiers, worsies spek en tamaties.

Met al die magies vol kry elkeen ‘n klein blou kaartjie waarop ‘n werkie aangedui word. Met ywer spring almal aan die werk om die vergaderlokale te vee en die vensters te was waar die stopverf-vingermerke nog die glas ontsier. Die groter meisies ruim die ontbytpanne op terwyl Duné (8) en Anna (5) die deeg knie vir die stokbrode later in die dag. Hierdie bedrywighede het plaasgevind nêrens anders nie as op Die Pos wat deur die Verkennersbeweging gehuur word van Kleinfontein.

Na ‘n uur se skoonmaak word ‘n tweede kaartjie uitgedeel wat verf van vensterrame, vernis vir die baksteenmure en sementgooi behels. Van die vierjarige Rika tot die groter kinders (tot vyftien jaar), het met ‘n kwas in die hand hul Penkoplokaal mooier gemaak. Driaan, slegs elf jaar oud en Nicolai, (pas 10), het die sloot in die vloer met sement en troffel herstel.

Na ‘n wilde gespook om al die enamelverf van die hande af te kry, geniet almal koek en koeldrank en maak gereed vir die staptoer. Met rugsak, waterbottel, hoed en wandelstok durf hul die uur-en-‘n-half wandelroete aan. Die roete neem hul verby Kleinfontein se begraafplaas, die Engelse grafte (almal is maar gou daar uit) en ‘berg’ op na die naald. Daar by die monument ter herinnering aan die slag van Donkerhoek staan almal op aandag en sing Die Stem uit volle bors. Die hoogtepunt van die dag is die besoek aan die verskeie skanse daar bo-op die berg, minstens vyf, wat die Boere met die oorlog daar gebou het. Sommer gou kruip die seuns weg agter die gepakte klippe om te sien of die res hul raaksien. Daar is ook ‘n diep gat, soos ‘n grot daar bo wat die belangstelling erg geprikkel het.

Met die terugpad gaan besigtig die Penkoppe die natuurlike fontein van Kleinfontein en die twee damme. Onder ‘n boom met rustyd word lemoene, waterbottels en aartappelskyfies uit die rugsakke gehaal. Die laaste ent weer terug op eie bodem tel die kinders sommer houtjies op vir hul beplande vuurtjie.

Die dag is verder ingekleur met stories, balspele en boomklim. Die lekkerste was maar die sosaties, stokbrode en slaai wat hul self kon voorberei en geniet. Teen vyfuur die middag het die ouers hul moeë, vuil kindertjies kom haal. Ek is seker teen agtuur die aand was almal in droomland, insluitend die voorgangers!