Ornamentele kool… te mooi om te eet


Ornamentele kool is maklik om te kweek en groei van saad. Die kool is eetbaar, maar nie so smaaklik en sag soos ons gewone kopkool nie. Hierdie kool word gewoonlik vir randakkers aangeplant en vertoon baie mooi as dit dig opmekaar geplant is. En die kleure is net ongelooflik mooi. Hulle het nie baie aandag nodig nie. Hulle blom in koel weer en kan erge koue weerstaan.

Saai die saad ses tot agt weke voor die ergste winterkoue en ryp. Die kleurpigmente van die kool ontwikkel eers wanneer dit kouer word. Indien hulle in die somer geplant word, sal die plante langerige bene maak en ook nie verskeie kleure wat so prominent is nie. Hulle sal ook geneig wees om plae en siektes te kry in die warm weer. Die plante verkies ook ietwat suurgrond waar die pH tussen 5.8 – 6.5 is. Hulle hou daarvan om nadat hul goed natgespuit is, so bietjie droogte te kry.

Spasieer die sade omtrent so 20cm van mekaar af, en bedek baie liggies met bietjie grond, want hulle het lig nodig vir ontkieming, wat reeds begin 10 dae na die sade gesaai is. Wanneer hulle uitgeplant word, plant hulle nie minder as 30cm uitmekaar nie. Hulle wil in son geplant word en benodig ryk grond wat goed dreineer. Hulle ontwikkel van 11 – 14 weke in volwasse plante. Die blomme van hierdie kool lyk soos groot roosblomme van papier en het gekartelde randjies.

Die ornamentele kool word tot 30 cm hoog en ook net so breed. Hulle groei ook baie goed in groot potplante, veral as hulle in verskillende kleure geplant word. Hierdie kool vertoon nie so mooi as hulle rond en bont geplant word, as wanneer hulle in massa aangeplant word nie.

Onthou dat insekte en diere wat gewone kool eet, ook lief is vir hierdie ornamentele kool. Pas dus u pragtige kool mooi op en geniet die tuin en berei voor vir die lente. Al die lenteblomme sal mos nou begin om blomme te maak.

Lekker tuinmaak tot volgende keer