Oranjerivier Wynkelders presteer internasionaal


Kimberley: Slegs ’n paar weke nadat die Oranjerivier-Wynkelders (OWK) se heerlike rooi muskadel as die algehele wenner in die Suid-Afrikaanse Muskadel-kompetisie aangewys is, word die Kelders se wit muskadel onder die 10 bestes in die wêreld aangewys.

OWK se 2012-muskadel het dié uitstaande prestasie behaal tydens die Muscats du Monde-kompetisie, wat jaarliks in Frankryk gehou word. Dit is een van die mees gesogte wyn-kompetisies ter wereld.

Altesame 230 wyne uit 24 lande het deelgeneem aan die kompetisie. Die Wynkelder se muskadel was een van slegs twee Suid-Afrikaanse wyne wat ’n goue medalje kon in palm
Dieselfde muskadel het ook in die Suid-Afrikaanse kompetisie ’n goue medalje gekry.
Mnr. Koos Visser, OVVK se bemarkingsbestuurder, sê dit is ’n vreugde dat een van die wêreld se mees afgeleë wynstreke in die internasionale kollig gekom het.

Die wenwyn is ’n versnit van wyne uit vier van OWK se vyf kelders, naamlik Upington, Keimoes, Kakamas en Groblershoop.

“Hierdie wyn is vir geslagte Suid-Afrikaners wat deur Upington na die Kalahari se jagveld reis, sinoniem met hul uitstappies,” sê mnr. Visser.