Operasanger Placido Domingo in hospitaal.


Operasanger en dirigent Placido Domingo is in die hospitaal a.g.v. ‘n klont in die longe.

Domingo se verteenwoordiger, Nancy Seltzer, het gesê die 72 jarige sanger is in ‘n hospitaal in Madrid opgeneem. Die vooruitsig is dat die sanger ten volle sal herstel, maar al sy optredes vir later in die maand sal gekanselleer moet word.

Dokters het voorgestel dat die sanger vir drie na vier weke rus. Sy terugkeer na die verhoog sal bepaal word oor hoe vinnig hy herstel.

Hierdie is nie Domingo se eerste kennismaking met ‘n ernstige siektetoestand nie.

In 2010 was hy binne 45 dae terug op die verhoog na ‘n operasie om kanker aan die kolon te verwyder. Sedertdien het hy ‘n besige skedule aan die wêreld se vooraanstaande operahuise gehandhaaf.