Ontsoutingsaanleg dalk vir Kaapstad.


‘n Studie om te bepaal of ‘n seewater-ontsoutingsaanleg vir Kaapstad die moeite werd sal wees, sal teen Desember voltooi wees.
Volgens ‘n Burgemeesterskomiteelid vir Nutsdienste, Ernest Sonnenberg, word ‘n aanleg van tussen 150 miljoen en 450 miljoen liter per dag ondersoek.

‘n Soortgelyke ondersoek vir Durban is ook aan die gang.

Suid-Afrika se aanleg by Mosselbaai wat 15 miljoen liter per dag kan gee, staan byna stil omdat goeie reëns die afgelope paar jaar geval het. Die besluit rondom so ‘n stap is na die droogtes van 2008 tot 2010 geneem as ‘n noodmaatreël vir die toekoms.

Volgens Sonnenberg word ‘n ontsoutingsaanleg êrens aan die Weskus beoog. Studies word ook gedoen oor waterherwinning en die benutting van grondwater.

Shami Harichunder, bestuurder vir belanghebbendes van Umgeni Water wat die ontsoutingsaanleg vir Durban ondersoek, sê die aanleg van 150 miljoen liter per dag kan tussen R2,7 miljard en R2.9 miljard kos.

PetroSa en die staat het die grootste deel van die R200 miljoen vir die aanleg voorsien. PetroSa is geregtig op 5 miljoen liter van die 15 miljoen liter per dag wat die aanleg lewer, het Harry Hille, munisipale woordvoerder gesê.