Ondersoek na wapentransaksie begin


Die ondersoek na die omstrede multimiljard-wapentransaksie sal deur ’n Kommissie op 5 Augustus begin.

Twaalf persone wat as sogenaamde fluitjieblasers beskou word, is aanvanklik geroep om in ’n eerste verhoor op 4 Maart te getuig. Dié verhore is egter uitgestel vanweë die kommissie se onvermoë om op die geskeduleerde tye gereed te wees.

Die kommissie sê in ‘n verklaring dat verhore gehou sal word tot aan die einde van November 2013.

In Januarie het die kommissie sy eerste omstrede geval ervaar toe een van die senior ondersoekers, ene Norman Moabi, onverwags bedank het.

Moabi, wat by geleentheid as regter van Pretoria waargeneem het, se bedankingsbrief het die bewering bevat dat die kommissie nie deursigtig is nie, en dat hulle ‘n “tweede agenda” het wat verskans word.