Olimpiese grootbase mors geld.


Suid-Afrika se Olimpiese grootbase het duisende rand van die organisasie se “beperkte hulpbronne” tydens die perdewedrenne in Julie in Durban geblaas.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Oplimpiese Komitee (Saskok) sê daar is nie genoeg geld om sportlui te betaal nie, maar R80,000 kan vir ‘n naweek in Durban spandeer word.

Mishen Reddy, seun van Saskok se Uitvoerende Hoof, Tubby Reddy en ander gaste het dié naweek in Durban in die luukse Coastlands-hotel in Umhlanga deurgebring. Dit is ook bevestig dat die wedren uit ‘n onthaaltent teen R3,195 per persoon dopgehou is. Saskok het bevestig dat 65 gaste daar onthaal is.

Geldelike steun aan van die sportlui op Saskok se program vir uitnemendheid (OpEx) vir afrigting is in Maart geskrap. Al tien van die land se topswemmers moet nou sonder afrigtingsubsidies vir die 2016-Olimpiese en Paralimpiese Speles in Rio de Janeiro in Brasilië voorberei.

Roland Schoeman, SA se kampioen swemmer, het verlede jaar gekla oor Saskok se gebrekkige steun. Die mans-roeispan wat by verlede jaar se Spele gewen het, het ook oor finansies gekla.