Obama oral in die moeilikheid.


Verhoudings tussen Europa en Amerika het verder verkil na bykomende onthullings oor laasgenoemde se afluistering van Europese lande en bondgenote.

Na aanleiding van verdere onthullings deur Edward Snowden het The Guardian geskryf dat hulle oor ‘n lys van 38 ambassades en diplomatieke sendings beskik waarvan Amerika se National Security Agency (NSA) elektroniese kommunikasie onderskep het.

Dit wissel van klein onderskeppingsapparate in kantore, telefone, faksmasjiene tot by rekenaarvirusse en toegang tot glasveselkabels waarmee boodskappe gelei word.

Van die afgevaardigdes wat afgeluister is, is gesante van Frankryk, Italië, Griekeland, Japan, Meksiko, Suid-Korea, Indië en Turkeie. Op die oog af dus almal met wie daar gunstige betrekkinge gehandhaaf word.

Selfs die Duitse Bondskanselier, dr. Angela Merkel is per geleentheid afgeluister tydens ‘n spitsberaad in Brussels. Ofskoon Merkel ‘n ysige stilte oor die aangeleentheid gehandhaaf het, het haar minister van Justisie, Sabine Leutheusser-Schnarrenberger ‘n verduideliking geëis en gesê dat die optrede herinner aan dade van die vyand gedurende die Koue Oorlog.

President Barack Obama se enigste verweer is dat dit deel van die stryd teen terreur is.

Intussen is Obama ook in Amerika in die sop. Nie net is die Amerikaners ontevrede oor die afluisterskandaal wat deur Snowden bekend gemaak is nie, maar ook die feit dat sy toer na Afrika – wat hy kombineer met ‘n gesinsvakansie – die belastingbetaler $100 miljoen uit die sak gaan jaag.

Weekliks bars nuwe skandale los. Die hantering van die moord op ambassadeur Christopher Stevens het nog nie gaan lê nie. Oproepe dat hy en Hillary Clinton vervolg moet word omdat hulle meineed gepleeg het, word daagliks gehoor.

Die skandaal oor die Amerikaanse Inkomstebelastingdiens (IRS) wat blykbaar in opdrag van sy stafhoof, Valerie Jarett alle ondersteuners van die Republikeinse party wat groot donasies aan sy teenstaander, Mitt Romney met die afgelope presidentsverkiesing gemaak het, te oudit en lank voor die afluistering op internasionale vlak; die afluistering van joernaliste in sy eie land.

Intussen het die Duitse prokureur-generaal aangekondig dat strafregtelike klagtes teen “onbekende persone” ingedien gaan word. Daar is ‘n moontlikheid dat die VSA gevra gaan word om die hoof van die NSA uit te lewer.