Nuusflitse


• ‘n Voorlopige berekening wat deur die Departement van Energie uitgereik is, dui daarop dat die petrol op 7 Augustus ongeveer 61c per liter meer gaan kos.
• “Gaan ek dood?” So het die 15-jarige Stephanie van den Berg aan haar pa gevra terwyl sy sterwend in hul huis in Delareyville in Wes-Transvaal gelê het. Sy het haarself per ongeluk met ’n jaggeweer raak geskiet.
• Die Suid-Afrikaanse inkomstediens (SAID) het Vrydag by die lughawe in Johannesburg beslag gelê op dwelms met ‘n straatwaarde van sowat R43 miljoen. Twee vroue van Tanzanië is met ses groot swart sakke by die lughawe vasgetrap.
• ANC-raadslede wat gestem het om die voormalige burgemeester van Potchefstroom te ontsetel moet eerder geloof word vir hul dapperheid, het ’n Agang SA woordvoerder gesê.
• Sokker-ondersteuners in noord-Brasilië het ‘n skeidsregter onthoof nadat hy ‘n speler gewond het toe dié geweier het om die veld te verlaat.
• Anni Dewani se ma het vir die eerste keer oor die moord op haar dogter gepraat en gesê sy voel jammer vir haar skoonseun, Shrien Dewani.
• Sewe mense wat na bewering menslike afval by die Kaapstadse Internasionale Lughawe gegooi het, is borgtog geweier.
• Een van Medupi=kragsentrale se 800 MW-eenhede sal weens tegniese probleme nie die sperdatum haal om teen die einde van die jaar krag te lewer nie, het Eskom gesê.
• ’n Vierjarige meisie van Australië is verlede week dood nadat sy ’n klein battery ingesluk en suur daaruit in haar slukderm beland het.
• Die tussentydse president van Egipte, Adly Mansour, het aangekondig dat parlementêre verkiesings vroeg aanstaande jaar gehou sal word,
• Snikhete toestande in Japan het die lewens van minstens drie mense geëis en meer as 2, 500 mense in die hospitaal laat beland.
• TV-lisensies gaan in September styg, het die SAUK gesê. Die jaarlikse tarief vir ’n huishoudelike, sake-, handelaars- en verhuurderslisensie sal met R15, van R250 tot R265, styg.
• Osama bin Laden, voormalige leier van Al-Kaïda, het glo graag in sy tuin gewerk met ’n cowboy-hoed op sy kop.
• Zimbabwe het ’n tekort van R853 miljoen vir hul verkiesing oor drie weke. Die Minister van Finansies, Tendai Biti, het dit bekend gemaak en die voorbereiding vir die verkiesing op 31 Julie as ’n “ totale nagmerrie” beskryf.
• Nóg ’n kitsbank is in die Kaapstad opgeblaas. Die Absa-kitsbank by die supermark in Northpine-rylaan, is volgens ’n polisiewoordvoerder, opgeblaas. Die polisie is nog onseker watter soort plofstof gebruik is, maar die kitsbank is heeltemal vernietig. ’n Groot bedrag is gesteel.
• Cosatu dreig om die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, na die gelykheidshof te neem vir diskriminasie teen vroulike brandbestryders omdat vroue tot 23% van hulle voordele verloor as hulle swanger raak en dan nie meer operasioneel is nie.