Nuusflitse


• ‘n Nieu-Seelandse vrou het per ongeluk haar lippe vasgegom toe sy ‘n buisie sterk gom in die donker opgetel het en gedink het dit is haar lipstiffie. Sy is in die hospitaal behandel.
• Pres. Barack Obama het ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Johannesburg aanvaar en dit sal in sy afwesigheid “oorhandig” word, het die visekanselier bekend gemaak.
• Honderde mense het buite die Caledonian-sportterrein in Pretoria betoog teen Barack Obama se staatsbesoek.
• ‘n Vryskut-rolprentmaker, F.C. Hamman, is aangehou omdat hy ‘n klein afstandbeheerde vlieënde kamera oor die Hart-hospitaal in Pretoria, waar Mandela aan die lewe gehou word, laat vlieg het.
• Vyftien insittendes van ‘n bakkie is dood nadat dit met ‘n bus gebots het op die R510 naby Thabazimbi, in Noordwes.
• Die Suid-Afrikaanse atleet André Olivier het tweede geëindig in die 800 m vir mans in Birmingham, Engeland.
• ‘n Storm het losgebars oor dié beeldmateriaal waarin ‘n broos en uitdrukkinglose Mandela uitgebeeld word, terwyl hooggeplaastes in die ANC, soos Jacob Zuma, laggend om hom gesels. Winnie Mandela het die familie se gevoelens oor dié aangeleentheid aan ’n Britse TV nuusagentskap bekend gemaak.
• Die getal sterftes weens militante aanvalle regoor Irak het gedurende Junie vanjaar gestyg en 761 gevalle is vir die maand aangeteken.
• Barack Obama en oudpres. George W. Bush sal ontmoet terwyl albei leiers in Tanzanië is, het die Withuis gesê. Die twee leiers sal byeenkom vir ‘n kransleggingseremonie by die Amerikaanse ambassade ter ere van 11 mense wat in 1998 in ‘n bomontploffing aldaar gesterf het.
• Oudpres. FW de Klerk is in ’n hospitaal in Parow geopereer om ’n pasaangeër te kry. Jacob Zuma het hom spoedige beterskap toegewens. Die operasie was ’n sukses.
• Negentien mense is dood toe ‘n MI-8-helikopter in Rusland in die noordelike Yakutia-streek neergestort het met 26 mense aan boord.
• n Uiters gespanne atmosfeer het in Egipte geheers nadat die weermag ‘n ultimatum aan pres. Mohammed Morsi gerig het wat hom en die opposisie 48 uur gee om die krisis in die land op te los voordat die weermag ingryp en sy “eie plan” implementeer. Miljoene Egiptenare het Maandag regoor die land teen Morsi betoog.
• Die sanger Lance James se vrou, Val, is in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal in Sandton. Sy woordvoerder, Mara van der Bergh, het bevestig dat Val baie siek is met ’n nierkwaal.
• Reddingsoperasies is steeds aan die gang in die Aceh-provinsie in Indonesië waar ‘n aardbewing van 6,1 op die Richterskaal die gebied geruk het. Minstens 22 mense is dood en meer as 200 is beseer.
• Die akteur Pierce Brosnan is verpletter nadat sy 41 jarige dogter haar drie jaar lange stryd teen eierstok-kanker verloor het.
• DIE perd Gevonden B50 se harde werk is gister met ’n soen op die voorkop beloon. Sy ruiter, Miemie Pienaar (30) van die plaas Kareeboom by Hoopstad, is trots op haar perd nadat hy die eerste dag van die jaarlikse uithourit op Fauresmith met ’n wen voltooi het.
• ’n Klokstelsel is eersdaags die voorland van onderwysers in die land se duisende staatskole, indien die Minister van Onderwys en die onderwys-vakbonde dit goedkeur.