Noord-Transvaal vertoon sleg.


Nie een van die Regeringsdepartemente in Noord-Transvaal het ‘n skoon oudit vir die 2011-’12 boekjaar gekry nie.

Derrick Ngobeni, voorsitter van die wetgewer se staande komitee oor openbare rekenings (Skoor), het in ‘n verklaring daaroor uitgevaar en gesê verskeie departemente het nie hulle finansiële state aan die ouditeur-generaal (OG) gegee nie.

Verantwoordbaarheid is nie opsioneel nie en dit is ook nie onderhandelbaar nie, het hy gesê.

Die Departemente van Gesondheid, Onderwys, Openbare Werke, Paaie en Vervoer en die Provinsiale Tesourie, is sedert Desember 2011 onder nasionale administrasie. Hy dring nou daarop aan dat die LUR’s alle finansiële dokumente teen 31 Augustus aan die OG of Skoor verskaf.

Die bedrae geld wat vermors word op onregmatige, ongemagtigde en vrugtelose en verspilde uitgawes is onaanvaarbaar, het Ngobeni gesê.

In die 2011-’12-boekjaar is R2,8 miljard se onregmatige uitgawes in die Provinsiale Regering aangemeld. ‘n Verdere R131 miljoen is gemors op ongemagtigde uitgawes. R175 miljoen is as vrugtelose en verspilde uitgawes afgeskryf en die Departement van Gesondheid kon nie rekenskap van R739 miljoen gee nie, weens dokumente wat weggeraak het.