Nog ‘n wapenriller.


Beweerde omkopery en bedrog met die in- en uitvoer van wapens na en van Suid-Afrika word onthul in ‘n verklaring deur ‘n voormalige werknemer van ‘n plaaslike handelaar.

Die werknemer sal na verwagting ‘n staatsgetuie in ‘n groter ondersoek deur die Valke wees. Die ondersoek gaan hoofsaaklik oor korrupsie by die Polisie se sentrale wapenregister in Pretoria.

Hoewel die valke tans geen kommentaar op die saak lewer nie, blyk dit dat ammunisie wat van die weermag gesteel is, deur die handelaar aangekoop is. Verdere bewerings sluit o.a. in:

* honderde wapens met vervalste reeksnommers is die land ingebring, terwyl groot hoeveelhede ook aan lande soos die Soedan (in minagting van ‘n verbod deur die Verenigde Nasies (VN), Azerbaidjan, Kenia en Oman verskaf is.

* onwettige wapens wat ingevoer is, is van vals reeksnommer voorsien met die hulp van senior ofisiere by die SAPD se wapenregister.

* twee amptenare by die Direktoraat vir die Beheer oor Konvensionele Wapens (DCAC) in die Departement van Verdediging het gereeld koevertjies met kontantgeld ontvang.

* wettige reeksnommers is op wapenpermitte verander met ander nommers en so is daar glo minstens 200 verskillende wapens na Oman uitgevoer.