Namakwaland se eerste blomme.


Vroeë reën in die Namakwaland, het gemaak dat die eerste blomme vir die seisoen begin blom.

Die verwagting is dat die blomme teen volgende week in groot plate in die streek sal staan.

Bernard van Lente, bestuurder van die Namakwa Nasionale Park sê die streek het goeie reën in Maart en April gehad, maar ‘n droeë Mei beleef.

Hoewel dit nie duidelik is hoe dit die blomme sal beïnvloed nie, lyk dit tog asof hulle vroeër gaan blom.

Daar is reeds verrassend baie blomme in die Skilpad-deel van die park, veral oranje madeliefies, sporries, surings en pietsnot wat gesien kan word. Die pad van Garies na Groenrivier het heelwat teebossies.

Gastehuiseienaars op Springbok en Garies het bevestig dat die blomme om die dorpe is, maar indien dit nie binnekort reën nie, mag dit ‘n kort seisoen wees.