’n Brokkie Volksgeskiedenis


(Met erkenning aan “Volksblad”)

In die middel van Golden Gate is ’n begraafplaas met twee rye grafte.
Dit is my mense wat hier vergete in die Vrystaat se grootste nasionale park lê.
Op die tweede graf voor van links lees ek my oumagrootjie se name hardop: Margaretha Jacoba Cilliers.
In liefdevolle herinnering aan ons dierbare moeder: Gebore 12 Januarie 1855
Oorlede 12 September 1931.
Liewe ouma Magrietha. Bittereinder; matriarg. Ek is híér danksy haar.
Iewers hier in ’n holkrans aan die voet van die goue kranse het sy die hele Vryheidsoorlog met nege van haar kinders geskuil.
Almal behalwe een het oorleef. Drie ander is reeds voor die oorlog dood. Oupa Abraham is deur die Kakies na Ceylon gestuur. Maar sy het hier in die grot die pot aan die kook gehou.
My pa, Arius, se oupa, Ernst, was een van die kinders wat hierdie bykans drie jaar in die grot oorleef het. Sy naam is steeds teen die klipwand uitgekrap.
Hier waar toeriste nou heen ry om te kampeer en met energiestafies te gaan stap deur die veld.
’n Halwe eeu ná die oorlog en nadat oupa Abraham teruggekeer het uit Ceylon, is hul plaas Gladstone hier vir die park onteien.
Die sandsteenkop het vir hulle nes ou Gladstone, destyds die Britse eerste minister, gelyk – met knopneus en al. Vandaar die plaas se naam. Hulle het glo ’n portret van Gladstone in hul kliphuis gehad. Vandag is oupa Abraham en ouma Magrietha se kliphuis die parkhoof se huis.
Die grond is later verdeel in twee plase, Gladstone en Wilgenhof. Oupa Ernst het Gladstone geërf; daarna my pa se ma, Christina.
As ek nou omdraai hier by oupa en ouma se grafte, ná my eerste besoek hier aan die ou begraafplaas, loop ek die Golden Gate- Hoogland- Nasionale Park in.
Om my is ’n muur van blou berge; bó my sweef ’n rooijakkalsvoël tussen spierwit wolke. Ouma-hulle se leefwêreld hier in ’n kloof van die Brandwaterkom, het ons almal se paradys geword.
Op 13 September vier die park al sy 50ste verjaardag.
Op pad terug na die Glen Reenen-oord skyn die laatmiddagson op die sandsteenrotse. Vir die Van Reenens, oupa-hulle se bure, het die son soos goud op die goue koppe geblink en hulle het die gebied Golden Gate gedoop.
Nou stroom daar elke drie maande bykans 12 000 mense deur die park.
Die park is ’n hemel op aarde vir stappers; mense wat na skoon, vars berglug smag. Dis waar die Maluti- en Drakensberg soos groot leeus langs mekaar in die rooivaal gras lê.
Hier draai die baardaasvoël (die lammergeier, sou oupa-hulle hom genoem het) nog tussen die pieke rond bó die valleie en heuwels vol sebras, elande en blesbokke.
Die jagvelde van tóé het ’n natuurerfenisgebied geword.
Die letsels van die oorlog is steeds op die park se grasveld te sien.
Twee stappers staar oor ’n vallei kranse, wat lyk of dit in rooi, geel en groen lae gestapel is. Die rooiborsjakkalsvoël sweef nou hier skuins voor ons teen hange op soek na prooi.
Dit is ’n kort stap berg-op tot by die park se aasvoëlrestaurant waar beeskopbene en ribbebene van blesbokke wit geskroei in die son lê.
Teen middagete is die aasvoëls egter nie in sig nie, waarskynlik omdat hulle vroegoggend reeds vol gevreet is.
Met die roete terug wei daar ’n paar sebras en elande in die berge se grasveld.
Die bekende Brandwagrots, wat bo die park se hotel uittroon, skyn goud soos dit donker word en die vol maanlig daarop val.
Dit is ’n magiese oomblik. Mense kom na die park, ons Vrystaatse trots vir sulke oomblikke.
Jy staar oor die berge waar bonkige wolke uitpof. Op die lap aarde waar dinosourusse, Boesmans, Sotho’s, Boere en Britte eens geloop het, bevind jy jou.
Soos ek uit die park ry, bly oupa en ouma se grafte agter, maar ek groet met ’n voller hart. Net soos vir hulle, bly hierdie lap aarde nou vir ewig vir my ook ’n paradys.