Mugabe se planne


Geheime staatsinligting oor President Robert Mugabe van Zimbabwe en sy Zanu-PF-party word die afgelope vier maande op Facebook uitgelap, sonder dat die persoon wat daarvoor verantwoordelik is, aangekeer word.

Die Facebook-blad, “Baba Jukwa,” beskyf homself as ‘n bekommerde pa wat teen nepotisme veg en gemeenskappe met hulle leiers in verbinding bring. Teen verlede week het die persoon reeds 234,000 aanhangers gehad.

Hy verklaar homself as ‘n gebore vegter en leier wat sy mense uit Mugabe se ellende wil red. Volgens hom het hy in die intelligensiegemeenskap gewerk en het “miljoene” geheime oor die regering.

Hy het al die huisnommers van hoogeplaastes in die polisie en regering op sy blad gepubliseer.

Van die onthullings op sy blad is dat Pres. Mugabe se besoek aan Singapoer vir ‘n oogondersoek was eintlik vir chemoterapie vir prostaatkanker en dat ‘n minister wat in in ‘n motorongeluk dood is, dalk vermoor is.