Motor rubriek – Subaru Outback


Subaru is ’n bekende naam in die motorsport wêreld en ook as ’n gewone voertuig vir algemene gebruik. In die nuutste model is ’n vier silinder diesel Boxer enjin gepas en dit gekoppel aan permanente vierwiel aangedrewe aandrywing, maak dit ’n gebruikers vriendelike voertuig. Volgens die vervaardiger se brandstofverbruik syfers is dit in staat tot ’n verbruik van 6,5l/100Km. Gesien in die lig dat die enjin gekoppel is aan ’n outomatiese ratkas, maak dit nog meer indrukwekkend.

Dit is die eerste keer dat Subaru ’n dieselenjin aan ’n automatiese ratkas gekoppel het. Die enjin se werkverrigting syfers is net so indrukwekkend en sien soos volg daaruit. 2.0 liter dubbel oorhoofse nokas, 4 silinder diesel enjin wat 110 kW @ 3600 o.p.m. lewer. Die wringkrag van 350 Nm is beskikbaar vanaf 1800 o.p.m. Slegs brandstof met ’n lae swael inhoud van 50 ppm. kan gebruik word.

Die bakwerk se ontwerp is van so aard dat sou die voertuig in ’n ongeluk betrokke wees, word die geweld van die ongeluk deur die bakwerk versprei en die insittendes van die voertuig word in ’n mindere mate beïnvloed. Die sitplek se ontwerp maak deel uit van die bakwerk en op die manier word die “sweepslag” aksie wat ontstaan tydens ’n ongeluk, verminder. Die verkoopprys deur die vervaardigers verskaf is R459,000 en die voertuig is in agt verskillende kleure beskikbaar. Dit het ’n 3 jaar of 100,000 km. waarborg wat ’n diensplan insluit van 3 jaar of 60,000 km.