Motor rubriek – Porsche 911 Turbo


Dit is sekerlik die droom van enige Porsche liefhebber om ’n 911 Turbo te besit. Dit staan ook bekend as die 930 en het sy buiging 40 jaar gelede gemaak. Die eerste “Turbo” kenteken is toe op die Porsche 911 geplaas en sedertdien is dit ’n bekende gesig. ’n Gesogte kleur wat uiters skaars is, is ‘n wit 930. Die montering van die turbo het tot gevolg gehad dat die brandstofverbruik verhoog het maar daar is nie oor gekla nie want gepaardgaande daarmee, was die bykomende krag.

Wanneer ’n 1974 911 langs vandag se 911 geparkeer word is daar ’n duidelike grootte verskil maar die bakwerk het die sagte vloeiende lyne behou. Die 1974 911 het die bekende15 duim, swart Fuchs wiele met die gepoleerde buite dele gebruik. Voor was 185/70 bande gebruik en agter 215/60 bande.

Die turbo aangejaagde, lugverkoelde, plat/ses silinder enjin was instaat om die motor van 0 tot 100 km/u in 5,5 sekondes te laat versnel en die topsnelheid was ’n handige 249 km/u. Alhoewel die dubbel klep turbo aangejaagde enjin se brandstofverbruik nie te suinig was nie, 10l/100km, was die krag voorsiening van ’n hoë standaard nl.191 kW @5500 o.p.m. 343 Nm wringkrag was beskikbaar teen 4000 – 5000o.p.m.

Die ratkas wat gebruik was, was ’n vierspoed weergawe wat die agterwiele aangedryf het. Staal is gebruik vir die bakwerk en het 1140kg. geweeg.

Wanneer die 1974 Porsche 911 turbo en die heel nuutste model langs mekaar geparkeer is en beide word aangeskakel, is die bekende Porsche – klank aan die orde van die dag en is die moontlikheid nie uitgesluit dat u armhare gaan regop staan en u ’n ongekende sensasie gaan beleef nie.

U mag droom oor ’n 930/911 Turbo!