Motor rubriek – Ford V8


Die naam Henry Ford is seker een van die bekendste name in die motorwêreld. So ook die uitdrukking van Henry Ford – “enige kleur solank dit swart is”. In vandag se dae word daar gebruik gemaak van moderne tegnologie maar die basiese beginsel geld nog steeds nl. om ’n enjin te laat werk word brandstof, suurstof en ’n vonk benodig om ’n enjin aan die werk te kry.

Seker een van die bekendste gebeurtenisse in die Ford geskiedenis is die bekendstelling van die V8-enjin gedurende 1932. Die sukses verhaal daaraan verbonde is dat dit Ford uit sy finansiële penarie gered het. Dit is gebruik in die B18 model wat algemeen bekend gestaan het as die V8. Dit was gepas in ’n verskeidenheid van bakvorms wat ingesluit het 2 en 4 deur modelle wat onder andere ’n afslaankap model ingesluit het. Daar was selfs ’n stasiewa model met netjies afgewerkte houtpanele aan die buitekant.

Hierdie model was slegs in produksie vir drie jaar en gedurende hierdie tydperk is daar baie min verander aan die bakwerk vorm. Gedurende 1934 is die modderskerms die eerste keer dieselfde kleur geverf as die bakwerk. Voorheen was die kleur swart gewees.

Wat interessant is van die V8-enjin is die ontwerp en werk vermoë. Die silinderblok was van gegote yster en so ook die silinderkoppe. ’n Enkelkeël vergasser was gebruik vir die brandstof voorsiening en die drukverhouding van 5.5:1 het daarvoor gesorg dat 48kW in die eerste modelle ontwikkel is. Die volgende model het verskyn met aluminium silinderkoppe en die kraglewering het verhoog na 56kW. Gedurende 1934 is ’n dubbel-keel vergasser gepas en die kraglewering het verder verhoog na 63kW terwyl die beskikbare wringkrag verhoog het na 195Nm.

Vandag kan hierdie bekende “Fordjies” besigtig word in die Franschhoek motor museum en kan motor liefhebbers met petrol in hulle are die nostalgie beleef, van toeka se tyd. Vandag is daar ook veselglas bakwerke beskikbaar en kan motor entoesiaste hulle eie weergawes bou van die motors.