Motor rubriek – Ford Kuga


Gedurende 2011 het die Ford Kuga in S.A. verskyn en die indrukke wat dit geskep het was nie baie goed nie. Die opgedateerde weergawe wat nou sy verskyning gemaak het, vertoon ’n heel ander prentjie en is inderdaad ’n indrukwekkende voertuig. Motorskrywers se kommentaar beskryf dit as ’n voertuig waarin die vorige tekortkominge herstel is.

Pakplek is aansienlik en maak voorsiening vir bykans alle behoeftes. Dit verteenwoordig ’n bruikbare spasie van 376 kub. Dm. Daar word voorsiening gemaak vir elektriese proppe, sewe lugsakke, elektries verstelbare sitplekke en nog talle ander handige hulpmiddels. Die been en kopruimtes is meer as voldoende en die agterste sitplek kan platvou. Om maksimum laairuimte te verkry, word ’n ruimte-sparende noodwiel voorsien.

Die enjin wat in hierdie voertuig gebruik word is die 1,6 liter turbo aangejaagde weergawe wat 110kW voorsien en wringkrag van 240 Nm. @ 1600 o.p.m. beskikbaar stel. Die brandstofverbruik van hierdie voertuig is ’n bruikbare 7,92 L/100km. Met die wringkrag beskikbaar is dit met die voertuig moontlik om ’n vrag 1500 kg. te skuif.

Alhoewel die stuur elektries ondersteun is, gee dit ’n natuurlike gevoel deur na die bestuurder. Voertuie is met verskillende bandgroottes beskikbaar wat wissel van 17 na 19-duim. Die bostaande inligting is van toepassing op die voertuig met die 17 duim wiele.

In die Ford Kuga 1,6 Ecoboost Trend, het Ford ’n wenner in die mark en in sy klas.