Moord beplan op weermaglede?


Militêre polisie is besig met ’n intensiewe ondersoek na wat vermoed word as ’n poging tot moord op senior weermaglede van die Lugmag.

Die vermoede bestaan dat vergifte sjokolade, wat aldikarb bevat, deur vyf lede van die lugmag, geëet is. Die gifstof word in die landbou gebruik.

Die voorval het plaasgevind by ’n geleentheid in die Ditholo-natuurreservaat se konferensiesentrum noord van Pretoria.

Die vyf het die sjokolade wat in ’n houer was, geëet. Die sjokolade is oorblyfsels van ’n vorige geselligheid in die lokaal.

Die eters is met erge hallusinasies, braking en geweldige maagkrampe in die hospitaal opgeneem en moes intensiewe behandeling ontvang.

Dokters het hul verbasing uitgespreek dat die mense nog lewe aangesien dit ’n kragtige gif is. Die vermoede bestaan dat die gif vir ander mense bedoel was wat voorheen is die lokaal byeen was.

By nadere ondersoek is gevind dat die sjokolade oopgemaak, oopgesny is, gif ingeplant is en weer toegemaak is.

Waarnemers meen egter dat die moontlikheid nie uitgesluit is dat die vergifte lekkers ook na afloop van die vorige geleentheid daar geplaas is in die wete dat die lugmag se mense daarna die lokaal gaan gebruik.